ONS KERKJAAR

As Christelike kerk gedenk Welgeluk die heilsdade van God in Jesus Christus en in sy Skepping, deur die volgende seisoene in die kerkjaar.

ADVENT

Die kerkjaar begin by ‘n viering van die koms van Christus na die aarde: vier Sondae vóór Kersfees gaan ons die Adventtyd binne. Die vernaamste liturgiese simbool is die adventskrans waarin vier kerse aangesteek word. In Welgeluk hang die koningsblou kanselkleed met sy stermotief daarop.

Die tydperk tussen 25 Desember (Kersfees) en 5 Januarie (Epifanie) staan bekend as die “Twaalf dae van Kersfees”. Epifanie is die fees wat die lig se deurbreek in ‘n duister wêreld gedenk; tradisioneel ook geassosieer met die verering van die Jesuskind deur die wyses uit die Ooste (Mat. 2:1-2).

Hierna word daar gekonsentreer op Jesus se aardse bediening van sy doop tot die verheerliking op die berg. In Welgeluk het die gebruik ontstaan om in ons eredienste in hierdie tyd, een van die Evangelies as Skrifteks te lees en te preek.

Ons het nie ‘n spesiale kanselkleed vir hierdie seisoen nie, maar laat hang alreeds die rooi een met sy silwer- en goudmotief van die Alfa en die Omega (Open. 1:8).

PAASFEES

Paasfees is die viering van die opstanding van Christus, van die oorwinning wat oor die bose behaal is, van nuwe lewe en geloofskrag in Hom.

Wit is die kleur van oorwinning en reinheid (‘n nuwe begin) en op ons kanselkleed verrys die kruis as’t ware uit die leë graf en bokant die donker aarde uit. Paastyd duur veertig dae waartydens die betekenis van die opstanding bedink word, tot en met Hemelvaart (Hand. 1:3).

Dit word gevolg deur die tien dae van afwagting, wat in die NG Kerk met Pinksterbidure deurgebring word.

LYDENSTYD

Op Aswoensdag, 46 dae vóór Paasfees, breek die Lydenstyd aan. Dan is die liturgiese kleur dieprooi of purper met die kruis, doringkroon, spykers en palmtakke as simbole. In Welgeluk word die kandelaar met sewe kerse uitgehaal en elke Sondag word een kers aangesteek.

Die rooi kanselkleed hang steeds, maar kan ook afgewissel word met die pers een waarop die doringkroon van Christus te siene is. Lydenstyd loop uit op Palmsondag en die begin van die Groot Lydens- (of Heilige) Week wat die laaste ses dae van Jesus se lydensweg as fokus het – ‘n week wat ook in ons gemeente met oggendwydings en ‘n Aandnagmaal gedenk word.

Dit eindig met Goeie Vrydag en Stille Saterdag, die dieptepunte van die Christelike kerkjaar.

Epifanie

Die seisoen na Kersfees tot en met Aswoensdag op 26 Februarie 2020 staan bekend as die seisoen van Epifanie.

Die fokus van dié seisoen is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. In dié fees gaan dit oor die “verskyning” of “Godsverskyning” en die naam word herlei van die Latynse Epiphanie (of Theophanie) vanuit die Griekse “epiphaneia” en “theophaneia”, wat op God se verskyning / manifestasie, in Jesus dui. Epifanie verkondig dat God hiér is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Hulle word so diep daardeur geraak dat dit daarna hulle identiteit bepaal en dat hulle ook bereid raak om aanpassings te maak en vir hulle geloof te ly. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit dáár te laat vorm. God is ook op onverwagse plekke teenwoordig en ons kan aanleer om God buite ons eie kring raak te sien. Ons oë en ore moet oop wees vir eietydse simbole van God se teenwoordigheid in ons midde. God se lig het in “n donker wêreld kom skyn. Dit kan nie uitgedoof word nie en dit begelei ons op ons lewenspad (sien bv. 1 Joh. 1:6 en Joh. 1:4-5). God praat en ons leef luisterryk. Ons het tyd nodig om in stilte by Hom te rus. Ons kan ons stemme voor Hom verloor en soos kinders steeds bly leer. Epifanietyd gee ons ’n oor vir sy hartklop aan ons deur.

PINKSTER

Op Pinkstersondag – vyftig dae ná Paasfees – vier ons die uitstorting van die Heilige Gees.

Dan ruil die kanselklede in Welgeluk weer: ‘n roomwit een met ‘n duif as simbool van die Heilige Gees, verskyn.

‘n Bekende liturgiese kleur vir hierdie tyd is ook vuurrooi, wat ons aan die “vuurtonge” van die eerste Pinksterdag herinner (Hand. 2:3).

KONINKRYKSTYD

Met Drieëenheidsondag (drie weke ná Pinkster) gaan ons Koninkrykstyd binne. Dan word daar klem gelê op die heerskappy van Christus en die taak en roeping van sy Kerk op aarde.

Hieraan herinner die groen kanselkleed ons. In Welgeluk blaai ons in hierdie tweede deel van die jaar – waarin ons andere die lente binnegaan – terug na die Ou Testament en lees en oordink ons die heilsdade van God in sy Skepping, in die geskiedenis van Israel en in ons daaglikse lewe.

So is daar in die verlede al preekreekse oor die voorgeskiedenis (Genesis 1-11), die verhale van Abraham, Josef, die Uittog en Intog, die konings en die Pelgrimsliedere (Psalm 120-134) en die “Tien Woorde vir ‘n gelukkige lewe” (Eksodus 20/Deuteronomium 5), gelewer.